"Om in die Here ons God te vertrou in al ons omstandighede, selfs wanneer jy Hom nie sien werk nie"
Toe ek hierdie stelling lees, het die gedagte by my opgekom: hoe vertrou ons Hom werklik in al ons omstandighede, en die Heilige Gees het my gelei na 'n baie bekende verhaal van vertroue in Genesis 37.
Ons ken almal die verhaal van die 17-jarige seun wat baie ondenkbare dinge moes deurmaak.
· Hy is deur sy broers verwerp, en hulle het hom gehaat (Vers 4, 8)
· Hulle haat het verander in jaloesie (Vers 11)
· Hy is uitgesluit en geoordeel deur sy broers (Vers 12, 19)
· Hulle het saamgesweer om hom dood te maak (Vers 20)
Al hierdie dinge het gebeur nog voordat hy as 'n slaaf verkoop is, voordat sy reis begin het. Kon jy jou voorstel wat deur Josef se kop gegaan het?
· Hy het vir sy lewe gevrees – Sy lewe was in gevaar.
· Hy is deur sy eie familie verwerp.
· Sy toekoms was onseker.
· Hy het geen beheer oor sy situasie of omstandighede gehad nie.
Vind jy jouself in soortgelyke situasies en kan jy met Josef se emosies identifiseer?
Dit mag dalk nie met familie wees nie, dit mag dalk met vriende, werk, of dalk misdaad of dinge uit ons verlede wees….
Een realiteit wat my getref het toe ek deur die verhaal en lewe van Josef lees, is dat God Josef nooit verlaat het nie.
· Genesis 39:2 - 'Die Here was met Josef sodat dit met hom goed gegaan het in die huis van sy Egiptiese meester. '
· Genesis 39:3 - 'Toe Potifar dit raaksien en besef die Here is met Josef aangesien hy suksesvol was in alles wat hy doen, '
· Genesis 39:21 - 'was die Here ook met Josef. Hy het sy getrouheid aan Josef bewys deurdat die tronkbewaarder hom goedgesind was. '
Josef se geloof in God en vertroue in God, ongeag sy omstandighede, is wat hom gedefinieer het en nie sy wêreldse omstandighede nie.
Ons dien 'n God van Waarheid, 'n God van beloftes en Hy sal altyd Sy beloftes nakom.
· Romeine 8:28 - 'En ons weet dat God alles ten goede laat saamwerk vir hulle wat Hom liefhet, hulle wat geroep is volgens sy doel vir hulle lewe. '
· Psalm 62:8 - 'God is my redding en my krag; God is my sterke rots en my toevlug. '
· Psalm 91:1-2 – 'Hy wat woon in die skuilplek van die Allerhoogste, sal rus in die skadu van die Almagtige. Ek sal vir die Here sê: “U is my toevlug en my vesting, my God op wie ek vertrou.'
Laat ons nie deur die duiwel mislei word en hom toelaat om ons fokus weg te neem van God en Sy beloftes vir ons lewens nie, fokus weg van Jesus terwyl ons in die storms is.
Psalm 36:6-13 - ' Here , u goedheid is eindeloos soos die heelal; u trou tot by die wolke. U regverdigheid is soos die hoogste berge, u oordeel soos die diepste waters. U sorg vir mense en diere, Here . Hoe kosbaar is u trou, o God! Die hele mensdom vind skuiling in die skadu van u vleuels. U voed hulle uit die oorvloed van u huis, en laat hulle drink uit strome van vreugde. Want by U is die fontein van die lewe, in u lig sien ons die lig. Laat u goedheid bly by dié wat U erken en u regverdigheid by dié wat opreg is. Moenie dat die hoogmoediges my vertrap nie. Moenie dat die goddeloses my wegdryf nie. Die kwaaddoeners val daar waar hulle is, hulle word neergegooi en kan nooit weer opstaan nie.'
YHWH, ek bid lewe oor ons omstandighede, ek bid vir beskerming oor ons verstand wanneer ons geoordeel word, verwerp word en wanneer ons onsekerheid in die gesig staar. Ek bid dat ons vashou aan U standvastige Liefde. Laat U beloftes waar wees in ons lewe en laat ons altyd vashou aan U Liefde, U waarheid, U Lig en U Genade. In die magtige naam van Yeshua. Amen
